Hy breek my af – moet ek weer probeer?

Tupperware Bloemfontein

13/08/2013 at 09:24 (Wysig)

Anoniem asb…Ek sit met `n stukkende en deurmekaar hart en wens dat hier dalk iemand is wat my `n bietjie antwoorde op my vrae kan gee…Ek is in `n verhouding met `n man al vir amper 10jaar. Ons is nog nie getroud nie (hy het nooit poging aangewend of iets daaroor gese nie) dus `n droom wat ek maar eenkant toe geskuif het en gedink het dis iets wat ek nooit in my lewe seker sal kan beleef nie. Ons het 2 kinders saam… Hy is `n baie afkrakerige mens, se aanhoudend slegte dinge vir my en kyk neer op my oor my kinderlewe en waar ek vandaan kom en kyk neer op my ouers oor hul nie so welaf soos sy ouers is nie. Hy beskuldig my elke keer met iemand anders, ek kan nie eers met my broer oor die foon gesels nie dan verneek ek hom?? Hy wil glad nie dinge saam ons as gesin doen nie, baie kortaf met die kinders en was nog in al die jare net by 2 geleenthede waar ons kinders betrokke was. Al die res moes ek as Mamma alleen bygewoon het. Wat my hart so seer maak is dat hy presies weet hoe ek voel, dat hy presies weet dat al hierdie dinge my emosioneel afkraak… so 3 weke terug het ek besluit genoeg is genoeg en hom gevra om uittetrek. Hy het al sy meubels gevat en by sy Ma hulle gaan bly. Dit was net voor `n naweek en hy het sommer die kinders ook gesoek vir daardie naweek waarvan ek hulle toe vir hom gegee het. Daardie naweek was ek toe stoksiel alleen in `n half kaal huis met net die stilte van my eie asem om my. Dit het my baie laat dink en ek het gevoel dat ek dalk die selfsugtige een is… Dat ek dalk te vinnig besluite geneem het… Hy het my daardie volgende dag gebel en gese dat hy weet hy baie slapgat was met ons en dat hy dit graag wil beter maak. Ons het iewers ontmoet, gesels wat op ons harte was, beloftes gemaak wat ek diep in my hart geglo het dat dit hierdie keer sal werk. Hy het belowe om iemand te gaan sien wat hom sal help..Dat hy hierdie keer werklik spuit is en werklik sal verander. Ek het daardie hoop diep in my hart gehad en ter wille van die kinders my geluk eenkant geskuif om vir hul weer `n huis te gee met `n Mamma en Pappa. Maar wat gemaak as dit als lee beloftes was. Dus nou 3 weke en hy begin weer slegse, hy se dus dalk `n goeie ding dat hy nog nie sy meubels terug gaan haal het nie, dat ek nogsteeds iemand ander het?? Mammas hoeveel kanse verdien `n man nog? Dit is al die 3de keer wat hy uittrek, berou daaroor het, ek hom vergewe, hy terugkom, dit goed gaan vir `n week of twee en dan begin die emosionele slegsery, afkrakings en beskuldigings weer. Hoeveel keer moet ek nog probeer en elke keer hoop en bid ek dat hy werklik die keer gaan regkom?? Hy se hy mis ons maar ek dink hy mis sy (huis omstandighede) sy gemaksone en is eerder gewoond aan ons as enige iets anders. As ek die keer finaal wegstap hoe en waar kry ek krag vandaan om nie weer terugtekeer en weer te val vir sy stories en beloftes nie. Dit begin `n geweldige impak maak op my kinders ook…Moet ek elke keer maar net weet vergewe ter wille van die kinders. Ek is moedeloos, gebreek, hartseer en wens iewers skyn daar `n lig…

Reply

This entry was posted in .. Bookmark the permalink.

2 thoughts on “Hy breek my af – moet ek weer probeer?

  1. Hoe kry ek nou sommer n knop in die keel. Ek weet presies hoe jy voel.

  2. S

    13/08/2013 at 11:18 (Wysig)

    Ai, mens, jy het baie swaar en is so broos op hierdie stadium. Werk jy? Eintlik vra ek of geld ‘n kwessie is? Om twee redes: jou moed en selfvertroue is geknou en jy gaan baie kan baat by hulp – ‘n mentor, sielkundige, coach … iemand wat jou kan ondersteun deur hierdie tyd. Het jy kontak met jou ouers? Sal hulle jou kan ondersteun – met tyd en hulp (al is dit nie geld nie, net iemand wat omgee). Of dalk ‘n goeie vriendin of predikant?
    Tweedens weet ek nie of jy werklik moet aangaan met hierdie huwelik nie:
    Waarvoor bly jy in die huwelik? Wat is jou pay-off?
    * Status weens jou huwelik?
    * Ter wille van jou kinders?
    * Omdat jy bang is om alleen te wees?
    * Omdat dit erger vir jou is om alleen te wees as om emosioneel verniel te word?
    * Omdat jy dink jy sal nooit weer ‘n maat of selfs net vriende/vriendinne maak en ‘n normale sosiale lewe kan opbou nie?
    * Omdat jy nie kans sien vir die finansiële implikasies nie?
    * Omdat jou vertroue nou so min is dat jy eenvoudig nie kans sien vir so ‘n groot en moeilike stap nie?

    Jy moet onthou dat kinders niks positiefs leer daaruit as hul ma die slaansak is. ‘n Gebroke verhouding neem kinders se sekuriteit baie meer weg as ‘n gesonde enkelouer huishouding waar die kinders en ma mekaar met respek behandel en hulle ervaar hoe positewe menseverhoudings lyk en werk.
    Ek is altyd ten gunste daarvan om iemand ‘n kans te gee. Maar nie onbeperk nie. Hierdie man toon nie dat hy sy kanse ernstig opneem nie. Soos hulle se is die beste voorspeller van toekomstige gedrag jou optrede in die verlede. Hy gaan maar net aanhou doen wat hy doen: jou afkraak, jou afpers met die kinders, beloftes maak en nie hou nie. Niks wat jy probeer doen sal hom verander nie.
    Ek weet jy wens eintlik net vir ‘n gelukkige liefdevolle verhouding. Maar dit is wensdenkery. Dit gaan nie gebeur nie. As jy voortgaan het jy net een pad vorentoe: lyding. Niks van die lig wat jy wens iewers skyn.
    Om die waarheid te se: as jy die lig wil sien skyn sal jy dit self moet aansteek. En nie deur maar net verder te ly nie. Dit gaan vir seker verskriklik moeilik wees om te breek en jou eie paadjie te begin.
    Maar dan het jy ten minste hoop op ‘n gelukkige afloop – vrede tuis, jou selfvertroue sal geleidelik herstel, en jy kan jou selfrespek geleidelik opbou. Jy sal baie sterk moet staan. Die begin is die moeilikste; daarna gaan dit makliker, soos jy ‘n nuwe lewe stadigaan opbou.
    EN WEET JY WAT? Jy gaan ontdek dat jy sterk genoeg is. Baie, baie vroue is al so sleg behandel; baie, baie vroue het al uit verhoudings gestap; en hulle kom ander kant sterker uit. Verras oor hoe sterk hulle is.
    As jy genoeg moed en krag het kan jy met ‘n skeisaak begin; as jy voel jy het emosionele steun nodig gesels met Famsa (051-525-2395) of iemand anders wat jou emosioneel kan ondersteun tydens die proses.
    Aangesien julle minderjarige kinders het sal jy met mediasie moet begin, voor die saak hof toe kan gaan vir ‘n egskeidingsbevel. Famsa sal jou kan verwys na ‘n mediator.
    (Terloops in ons September-uitgawe wat nou op die rak is, is daar ‘n artikel oor egskeiding en geld – hoe om jou finansies op koers te kry. Gaan lees dit gerus – al kan jy net ‘n paar aftik en vir jouself beding.)
    Sterkte!

    Nog ‘n paar hulpnommers:
    Lifeline crisis line toll-free 0861 322 322
    Childline 24-hour toll-free 0800 055 555
    Stop Women Abuse helpline 0800 150 150

Gesels hier