Laerskoolkinders met depressie

Depressie onder laerskoolkinders afgeskeep
Daar is hope hulp vir depressiewe tieners. Maar wat van laerskoolkinders? Word die broosste van ons almal aan hulself oorgelaat omdat ons self nog nie aanvaar dat tienjariges depressie kan kry nie?

Elke ma droom haar appelwang dogtertjie en kriewelstert seunskind gaan sonder te veel sukkel die brug na volwassenheid oorsteek. Meestal gebeur dit. Maar al te dikwels bekruip ‘n donker bui kinders, nog lank voor hulle tieners is.
Soos vir Mieke. Hierdie eens vrolike ekstrovert het op elf jaar skielik nie maats nie. Sy frons permanent, voel ‘almal is teen haar’ en huil maklik. Haar skouertjies hang; van ontluik in ‘n lewenslustige tiener is daar nie sprake nie.
“Ek was so ontsteld toe ek verlede jaar net na die wintervakansie haar kamer regpak en op ‘n boks vol klein-opgevoude folios afkom wat deur haar geskryf is. Op net elf skryf sy folio na folio oor en oor: ek haat myself; niemand hou van my nie; my maats is aaklig met my maar dis al soort van maats wat ek werd is; ek is lelik; ek is suf en stupid; hulle het weer vir my weg gehardloop; jy suck, jy SUCK. Dié een was in ‘n ander kind se handskrif, met ‘n dosyn ander handtekeninge daarby. Daar was nog ‘n briefie: jy kan nie pouse met ons speel nie.
“Ek kon sien dit gaan nie goed nie maar soveel pyn het ek nie verwag nie,” vertel Emma. Sy het die boks toegemaak en na oplossings begin soek. Daar is, maar dis ‘n moeiliker, langer pad as wat mens sou wou hoop.

Kan kinders regtig depressie kry?
Selfmoord’ en ‘tien jaar oud’ is twee konsepte wat mens nie bymekaar bring nie maar kinderpsigiater Juan Schrönen vertel die selfmoordkoers onder kinders 10-14 het die afgelope dekade verdubbel.
“Selfmoord onder sulke jong kinders ís raar maar ons gee te min aandag aan hierdie ernstige en boonop groeiende probleem. Ouers aanvaar hul tienerkind depressief kan wees. Hoërskole let op na depressie; daar is voorligteronderwysers, jeugwerkers en geleenthede vir hierdie leerders, wat dikwels deur die skole vir hulp verwys word, as die ouers dit nie optel nie.
“Maar as ek vir mense sê ek moes al ‘n negejarige met ‘n anti-depressant behandel vir majeure depressie dink hulle ek wil net geld uit anti-depressante maak. Die werklikheid is dat laerskoolkinders diep depressief kan raak – en so ernstig dat dit nie net hul persoonlike ontwikkeling nie maar ook hul brein permanent letsel. ”
Ontken ons die probleem onder laerskoolkinders? Los ons jong kinders – die broosste van almal – om maar alleen met hul siekte te worstel? Dit lyk so.
Rentia, ‘n laerskoolonderwyseres, sê sy het elke jaar in haar Graad 6-klas minstens een kind wat sy doodseker is depressief is. “Meestal sal die ma my kontak en sê die kind is ‘ongelukkig’ en raad vra.
Maar weet jy, daar is werklik min wat ek in die klassituasie kan doen.
“Ek betrek die kind waar ek kan maar gewoonlik is die depressiewe kind nie in staat om uit te reik en van sy kant af klein takies te doen, soos om die klas se potplante water te gee. Hul klaswerk is tipies agteruit, en ek kan min sterretjies uitdeel en prys. Omdat sy konsentrasie tipies swak is werk klasdeelname nie; hy gaan vir seker die antwoord verkeerd kry en nog meer na ‘n mislukking voel. “Ek kan nie oral dophou en die kind beskerm nie. My klasse is groot – meer as veertig leerders – met ander kinders wat aandag eis, soos die hiperaktiewes en die stadiges.
“Dis ‘n moeilike ouderdom. Ek kan nie kinders dwing om maats te wees nie: die kinders wil hul maats self begin kies. Ek kan hulle nie dwing om nice met mekaar te wees nie. Dis skrikwekkend om te sien hoe kras hulle mekaar afkraak. Ek en jy sal dalk min van mekaar hou maar beleefd bly. Kinders gaan staan sommer ‘n kringetjie om die een van wie hulle nie vandag hou nie en skel hom uit. Party kan dit verwerk en môre saam iemand anders uitjou; ander knak.
“Ander kinders reageer nie goed op depressie nie en stoot hierdie oudjies verder uit. Ék kan nie veel doen nie, en as die ma nie die vermoë het nie … Ja, dan is die kind aan homself oorgelaat.”
Emma vertel hoe magteloos en onbeholpe sy is voor hierdie situasie. “Ek vra raad maar mense verstaan nie of help nie. Ek loop my oral vas in ‘n houding van dat dit maar normale groeipyne is of dat ander kinders – wat hope maats het – ook maar soms met hul maats ‘n uitval het. Party impliseer selfs dat Mieke dit oor haarself gebring het. Een het vir my gesê gawe kinders het maats; nare kinders nie. Vir my lyk dit eerder asof die nare, katterige kinders maats het en die sagter kinders makliker uitgestoot word. Niemand my glo as ek vertel hoe diep ongelukkig my kind is nie.
“By die skool loop ek my in ‘n muur vas. Die skool sê maar net hulle ‘dra elke kind se belange op die hart’ en ‘die kind gee nie moeilikheid nie, so alles is in orde; ek moet my nie bekommer nie.’ My indruk is dat hulle dink dit gaan vanself oorwaai. En ja, dit is seker wat in ‘n ander sin gaan gebeur: oor ses maande ‘waai’ Mieke uit die laerskool . So word die probleem wat hulle betref opgelos.

Tekens van depressie by laerskoolkinders
Emma verwyt haarself dat dinge so ver gegaan het. “Dit het eintlik skielik gebeur. Sy het haar kringetjie maats gehad. Verlede jaar is sy van haar beste maatjie geskei. Daar was van haar ander maats in haar klas maar sy kon net nie haar voete vind nie. Ons het nuwe maats oorgenooi en ek het aangemoedig dat sy kyk wie ook alleen is en uitreik. Ek het gehoop dit gaan in die tweede kwartaal beter. Maar skielik is dit die derde kwartaal en my kind het binne drie maande – dit voel soos ‘n oogwink – verander in hierdie hartseer, hartseer kind. Ek moes dit seker vroeër raakgesien het, voor dit te ver gegaan het.”
Conrad Minnaar, ‘n polisie-onderhandelaar wat daarin spesialiseer om selfmoordgevalle daaruit te gesels, sê dis die een ding wat hom keer op keer opval: ouers wat sê hulle het dit nie verwag nie; die kind was dan tot ‘n paar weke gelede so tevrede / sosiaal / besig.
“Jy moet omtrent ‘n baasspeurder wees om depressie by hulle op te tel. Gesels met jou kind oor ditjies en datjies met elke kans wat jy kry. Luister na sy antwoorde, vra daaroor uit, sonder om in te vra. As jy nie raadgee nie en nie berispe nie praat kinders makliker. Luister veral na sy stemtoon, kyk na sy lyftaal en neem in hoe hy dit sê. Dit verklap hoe dit emosioneel met hom gaan. As jou kind een van die stilletjies is – van nature skaam en teruggetrokke – wees ekstra oplettend op sy lyftaal.”
Volgens Juan is die enigste betroubare indikasie dat die kind nie meer homself is nie. “Dit sal jou help onderskei of jou kind net vandag ‘n bietjie ‘af’ voel en of jou kind al eintlik in sy lewenshouding geskuif het. Enige kind is soms huilerig of stuurs maar jou kind met ‘n probleem is al weke lank oorwegend of dikwels so. So is kinders wat maklik uitgereik het nou dikwels of meerendeels angstig. Die voorheen lewenslustige kind put nou selde genot uit enige iets. Die kind kan ook baie meer of baie minder slaap of baie meer of baie minder eet. Nog ‘n goeie leidraad is dat die kind al swakker vaar op skool en sukkel om te konsentreer.”
Dis bitter moeilik om jou vinger daarop te lê, glo Emma. “Dis nie soos koors wat van gister na vandag duidelik verander nie. Eers as ek dink hoe my kind twee jaar gelede was kan ek sê sy is nou baie anders. Dis eerder soos ‘n geleidelike aftakeling: eers was daar net een insident en sy kon dit na ‘n tydjie oorkom; toe nog een en nog een. Eers was sy net ‘n aks minder vrolik as die vorige week en later elke week of so net ‘n aks hartseerder. Jy raak naderhand gewoond daaraan. Mieke is my oudste, en mens hoor oral die tienerfase is mos juis vol dramas, en dus dink jy dis maar hoe dit nou moet wees.”
Daarom glo Juan dat ouers wat ‘wonder’ die diagnose in die hande van ‘n professionele buitestaander moet plaas. “Ons gebruik vralyste soos die Kiddie SADS, die Children Depression Rating Scale en die Columbia Suicide Severity Scale om ‘n geheelbeeld van die kind se emosionele toestand op te bou. As buitestaanders kan ons meer objektief oordeel as die ouer.”

Praat of pille?
Juan glo julle moet heel eerste met gespreksterapie begin “Maar ek sal baie versigtig wees in wie se hande ek die vorming van my kind se denkpatrone laat. Kies iemand met die vermoë om jou kind anders én meer positief te laat dink. Iemand wat jou kind vertel depressie is van die duiwel of dat mens depressie net moet wegbid doen ontsettend ernstige langtermyn skade.
“Die sielkundige behoort jou kind bykomende vaardighede te leer (soos hoe om in ‘n groepie op te tree, die waarde van ‘n paar vriendelike vrae, groter self-insig of wat ook al nodig is) en dit met jou te bespreek sodat julle dit kan inoefen.
“Die ideaal is dat jy sélf jou kind emosioneel ondersteun want jy is daar wanneer hy vashaak, teenoor die sielkundige wat ‘n uur per week het om aan ‘n probleem te werk wat hom al die hele week kwel … en dalk direk na skool wanneer die kind oormoeg en gejaag daar aankom en glad nie lus is om saam te werk nie.”
Is anti-depressante nie darem net te drasties vir laerskoolkinders nie? Moet mens nie maar net aanvaar dat groot word ‘n pynlike proses is en dat kinders deur met die probleme te worstel juis sosiale vaardighede aanleer nie?
“Dit hang af. As jou kind nie beter raak nie is hy biologies depressief, met ander woorde hy het ‘n siekte wat buite sy beheer is. Sosiale vaardighede en gesonde persepsies het niks met sy toestand te doen nie: sy breinchemie kelder hom.
“Ek is heeltemal gekant daarteen dat ouers en skole kinders maar net los: dis oningelig en ongevoelig, en sodner enige opvoedkundige waarde. Mense onderskat die impak van breinontwikkeling op vatbare kinders. Die frontale lob van die brein waar emosie gesetel is ontwikkel in die tienerjare meer as in enige ander fase. By party kinders gaan dit met meer skommelings gepaard as by ander, wat hulle baie vatbaar vir depressie maak.
“Ons besef ook nou dat depressie in hierdie fase die brein permanent letsel. As jy nié optree nie en die brein maar disfunksioneel los raak depressie die brein se voorkeur werkswyse, wat jou kind se persoonlikheid vir die res van sy lewe vervorm. Depressie infiltreer permanent sy persoonlikheid … tensy dit behandel word.
Beteken ’n pilletjie op tien ‘n pilletjie tot op honderd?
“Nee wat. Vir die meeste kinders is ses tot twaalf maande genoeg. Dit lyk eintlik asof vroeë ingryping die brein tot by normale funksionering terugbring, waarna die kind baie waarskynlik nie weer ‘n anti-depressant nodig kry nie. As jy die kind los sukkel hy juis vir die res van sy lewe met depressie. Die doel van die anti-depressant is om die kind se breinchemie te plaas waar ander kinders s’n in elk geval is.”

Advertisements

One thought on “Laerskoolkinders met depressie

  1. Ek het dringend hulp/instansie se naam en foon nommers nodig.
    My dogter 18, is erge selfmoord geval.
    Asseblief help my

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s