Naomi Feil se validasietegniek maak demensie makliker

Validasie
die tegniek wat deur die digte mis van demensie breek

Toe The Validation Breakthrough nou die dag oor my lessenaar kom is my eerste gedagte: sjoe, ek wens ek het hierdie nuutdenkende boek vroeër in my lewe te lese gekry.
My eerste ontmoeting met iemand met demensie was in die dae toe ek nog diaken was en moes gaan kollekteer, onder andere by tannie Rose en oom Piet. Sy so lief en sag soos haar blomnaamgenoot, en hy ‘n regte ‘dirty old man’. Sy vlaag wulpse en tegelykertyd godslasterlike aanmerkings het die naïewe groentjie-ek binne minute op die vlug laat slaan.
Daarna het ek en tannie Rose liewer oor die tuinhekkie gekuier – taktvol deur haar voorgestel. Nogals gereeld en lekker want sy was ‘n intelligente en innemende dame met ‘n gesonde sin vir humor en die vermoë om ‘n storie te onderhoudend te vertel. Sy het baie dikwels van oom Piet gepraat maar na hom verwys as HY. Met nadruk. Nooit op sy naam nie. HY dit en HY dat … Ek het die geselsies vernuftig weg gestuur van die aaklige oom Piet want ek het gedink sy moes bietjie wegkom uit haar benouende huislike lewe.
Foeitog, so het ek niks gehelp nie. Arme tannie Rose. Het ek – en ons dorpie – toe maar meer verstaan was haar lewe sekerlik draagliker. En het selfs oom Piet sy lewe met meer waardigheid afgesluit.

As demensie, Alzheimers gebeur …
Dis ‘n groot menslike vrees: dat die ouderdom ons die onwaardigheid van demensie sal aandoen. Karen Borokowitz, bestuurder van DementiaSA, ‘n NRO wat hulle toespits om mense met demensie te ondersteun, troos dadelik.
“Dit gebeur met ‘n relatief klein getal bejaardes. Ja, ons breins gaan agteruit en baie van ons raak tot minder in staat . Maar dis glad nie onafwendbaar dat ons verward en moeilik sal raak nie.”
En as dit gebeur?
“Ons verstaan deesdae verwardheid by bejaardes soveel beter, en daar is baie wat gedoen kan word vir jou pa of ma … of as dit jóú sou tref. Ekself is baie opgewonde oor ‘n nuwe tegniek, validasieterapie.
“Ons verstaan ook die invloed van gesondheid op gedrag beter. Dis dalk glad nie demensie wat jou ma skielik deurmekaar maak nie maar haar medisynes. Party soorte op hul eie of in kombinasie met ander veroorsaak beslis verwardheid. Of dis ‘n ligte beroerte of onbeheerde diabetes, wat reg gestel kan word.
“Baie mense besef hulle is besig om deurmekaar te raak. Dis so angswekkend dat die meeste van ons dit liewer ignoreer. Dinge raak dus veel erger voor ons die regte hulp kry. Ek glo dat as ons eers besef hoeveel die lewe steeds kan beteken ten spyte van demensie gaan die hele stigma en vrees verdwyn.”
Maar ons leef in ‘n omgewing waar talle versorgers onkundig is – en dit bekommer Karin. “Die swart tale het nie eers ‘n woord vir ‘demensie’ nie; in party van die landelike gemeenskappe word mense met demensie steeds as hekse ge-etiketteer en gestenig.
“Party professionele versorgers dink steeds bejaardes moet met beloning en straf, net soos kinders, ‘reg’ geleer word. Vanselfsprekend is die meeste volwassens heeltemal onkundig oor hoe om met hul ou-ou ouer te werk. Al verstaan jy dat ouderdom die rede is vir jou ma of pa se gebrabbel, verwardheid, onredelike eise, herhalende gesprekke, emosionele uitbarstings, woedes, verlies aan inhibisie en snaakse en dikwels kwetsende stellings bly dit baie moeilik om dit sinvol te hanteer – en soveel te meer omdat jy terselfdertyd jou eie hartseer oor jou ouer moet verwerk.
“Ek wens met my hele hart almal kan die validasietegniek aanleer. Dis ongelooflik helend vir die kinders wat op ‘n manier weer hul ouer ‘terugkry’ en weer sinvol kommunikeer, al is dit op ander terme as vantevore. Die wonderlikste vir my is die heling en vrede wat die ou-ou mens sélf ervaar as hy weer veilig en geliefd te voel.”
Naomi Feil, moeder van die validasietegniek wat reeds baie wyd in die Weste gebruik word, demonstreer in haar boek met talle werklike gevalle hoe ou-ou mense wat reeds ‘weg’ was gehelp word om weer woordeskat te vind en hoe party wat reeds vegetatief was weer sinvol reageer, al gebruik hulle die verwysingsraamwerk van hul gedagtewêreld. Inspirasie en bemoediging soos min.

Die oorsake van Demensie, Alzheimersiekte
Terug by die boek: Die skrywer, Naomi Feil, sê dat die tipiese gedrag wat ons as demensie klassifiseer eintlik vorms van disoriëntasie is. Demensie is veel meer as net ‘n fisieke, mediese diagnose en agteruitgang van die brein. Dit het implikasies ook vir die sosiale, sielkundige en emosionele kwessies waarmee die persoon worstel. Sy glo ou-ou mense met die grootste emosionele bagasie is die ergste gedisoriënteerd.
Dié emosionele bagasie spruit uit ons vroeëre lewensfases, en is gebaseer op een van die bekendste sielkundeteorieë wat lui dat jy in elke lewensfase ‘n taak moet afhandel: as babas leer ons dat ons waardevol is deurdat ons ma vir ons lief is en ons vertroetel. As kinders leer ons vertroue in ons vermoëns deur alles te probeer leer wat ons kan. As tieners moet ons onsself losmaak van ons ouers en onafhanklik raak; ons doen dit deur te rebelleer. As volwassenes is ons taak om ‘n liefdesverhouding met iemand op te bou. In die later jare moet ons leer om die teenslae te kan vat: ons verloor ons gesondheid of ons huweliksmaat of ons gehoor of ons werk, of alvier. Maar ons gaan kompromië aan en vind op nuwe maniere sin, en ons sien die lewe is steeds goed.
Ou-ou mense, sê Naomi, moet nog een laaste taak afhandel, en dit is die regverdiging van hul lewe. “Ons wil kan sien wie ons wás en ons wil tevrede voel met wat ons bereik het. Ons wil weet ons lewens was die moeite werd en ons het liefgehad en is ook liefgehê.
“Die diep ingebore mensewysheid dwing jou om elke lewensfase se taak af te handel. Onafgehandelde take skuif oor na die volgende fase … en uiteindelik kom party van ons eers as ou-ou mense daarby uit. Vir ou-ou mense is die afhandeling van hierdie taak/take dwingend noodsaaklik voor hulle vrede kan kry.”
Die wat daarin slaag is rustig en geniet wat die lewe hulle nog kan bied, al is dit ingeperk. Dis die ou-ou mense met onafgehandelde take wat ‘moeilik’ is.
Die rede is voor die hand liggend: hul vermoë om hulself uit te druk is verlore weens die agteruitgang van die brein. Hulle probeer so goed hulle kan met die middele tot hul beskikking: die beelde en woorde uit hul jonger lewe waartoe hulle nog toegang in hul brein het. Ons verstaan dit nie, en daarom kan ons nie hulle help om reverdiging te vind nie. Hul onsuksesvolle pogings lei tot frustrasie, woede, skuldgevoelens, vrees en hartseer, en swaai geleidelik om in wanhoop, dan depressie en uiteindelik in algehele onttrekking – daardie fase waarin hulle nie meer kan kommunikeer nie en bloot vegetatief is.
Naomi leer mens die beginsels van validasie: dus hoe om die bedekte behoefte te eien en verskillende tegnieke in te span sodat die ou-ou mens op ‘n manier wat nog tot hom spreek sy emosie uitdruk, hy homself sy foute vergewe, sin maak van sy harde werklikheid, homself erkenning gee vir sy suksesse, selfwaarde vind, ‘n nuwe sin vir veiligheid verkry en weer geliefd en in ‘n liefdevolle kring mensekontak ervaar.

Sou ek oom Piet met selfs net ‘n bietjie begrip beter kon hanteer? Waarskynlik. Ek het geweet hul kinderlose huwelik was nie juis gelukkig nie. Te verstane want hy het dekades in konstruksie ver van die huis af gewerk. ‘n Ru lewe wat baie anders was as in die erfstuk-belaaide tuiste wat tannie Rose geskep het. En ek het geweet tannie Rose het ‘n affair gehad.
Was sy kru maniere dalk ‘n poging om te sê ‘ek is dit werd om ‘n eggenoot te wees’? Was die vloekwoorde ‘n simptoom van sy opgekropte frustrasie oor sy onvoltooide lewenstaak en sy spyt en rou oor sy mislukte huwelik wat hy nie beter kon verwoord nie? Sou validasie hom kon help om vrede te vind? Sou hy met ‘n bietjie aanmoediging kon insien dat hy wel bygedra het om hul lewe te finansier en op daardie manier ‘n goeie eggenoot was?
Dit sou die moeite werd gewees het om te kon probeer.

‘n Paar tegnieke
1. Maak oogkontak en gebruik ‘n duidelike, lae stemtoon.
2. Praat altyd met groot respek en liefde. Jy wil immers hom opregte erkenning gee (‘validate’) sodat hy homself kan regverdig, vergewe en aanvaar.
3. Moenie stry oor die feite soos hy dit sien nie. Hy sê iemand steel sy motorsleutels maar eintlik vrees hy dat hy sy motor en onafhanklikheid gaan verloor; vra liewer uit wat hy nog bang is om te verloor.
4. Probeer die emosionele behoefte te verstaan: is daar dalk ‘n lewenstaak wat nog voltooi moet word? ‘n Emosionele konflik, vernedering of kwelling wat verwerk moet word? Erken liewer sy oplossing vir wat dit is: die beste een waartoe hy in staat is.
5. Moenie probeer reghelp nie (‘Ma, dis ek, Rietie’). Sy sien jou op die oomblik as iemand anders met wie sy baie graag oor iets wil kommunikeer. Stel liewer vrae wat daarmee help, soos ‘Wat wil Ma vir haar sê? Waar is Ma nou? Wat het toe gebeur?
6. Beleef sy herinneringe saam met hom. Dis baie werkliker as wat vandag rondom hom gebeur – logies, want toe dit vasgelê is kon toe nog werklik sien, hoor en ervaar.

Kosbare hulp
*Bestel The Validation Breakthrough by DementiaSA 021 434-5080.
*En as jy vasbrand en raad-op is met ‘n ou-ou ouer werk gerus http://www.dementiasa.org se webblad deur. Dis propvol wenke wat ewe deernisvol as prakties is

Demensie of Alzheimersiekte? Demensie is die nuwe sambreelterm vir al die kognitief-belemmerde toestande.

Aanraking
Die volgende maniere werk goed om jou ouer te laat weet jy is naby:
*Streel liggies in klein sirkeltjies oor sy wang
*Streel met die rugkant van jou hand van sy oor saggies al langs die nek af
*Masseer sy skouers, kop en rug liggies

One thought on “Naomi Feil se validasietegniek maak demensie makliker

  1. MY VROU LY AAN DEMENSIE EN EK KAN MAAR NET Sê DIT IS HEL OM MET SO ‘N PERSOON SAAM TE LEEF.

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s