Op Litium? Wat is jou kans op ‘n normale baba?

Dink nuut oor swanger raak en bipolêr wees
soos gepulbiseer in Rooi Rose Desember 2010
Bipolêr en swanger – dis moontlik maar nie maklik nie

Toe jy met bipolêre depressie gediagnoseer is het jou dokter waarskynlik dadelik vir jou gesê om maar liewer nie kinders te hê nie. Die medikasie is gans te gevaarlik vir ‘n baba, en daarsonder is dit gevaarlik vir jou. Maar die grens is aan’t verskuif. Jou eie bondeltjie vreugde is moontlik … as jy volgens die nuwe reëls speel.

As jy op Karolien se troudag baie oplettend was sou jou oog dalk met elke tree of drie die parmantige ‘I’ en ‘Do’ op die sole van haar trouskoentjies gevang het. Eintlik moes jy dit nié raak gesien het nie want die woorde wat sy self net voor die seremonie op haar balletskoene se sole gekoki het was ‘n privaat boodskappie spesiaal aan haar bruidegom.
So is Karolien. Iemand wat op ‘n vars manier haar liefde met oorgawe uitdruk en baie gou baie diep in jou hart inkruip.
Sy ly ook aan bipolêre depressie. Nie dat dit hierdie vasbyter terughou nie. Sy is ‘n opgeleide giminstruktrise, het wyd gewerk in die toerismebedryf en het al as toergids 27 toeriste op ‘n toer tot in Sentraal-Afrika geneem. Die wêreld is haar werkplek, en toe die liefde tref was dit geen verrassing dat ‘n buitelander haar hart gewen het nie.
‘n Verhouding was die natuurlike, volgende stap.
“Ek wou nog altyd ‘n ma wees maar ek het nie eintlik aan ‘n kind op daardie stadium gedink nie. Ons was die meeste van die tyd ver van mekaar af en as ons twee dan ‘n tydjie kon saam wees was ons so gelukkig en so verlief dat niks anders by ons opgekom het nie. Skielik, na ‘n jaar van mekaar sien wanneer ons kon, was ek swanger. Ja, ek weet mens kan vra wat het ek dan gedink maar dit was nog altyd ‘n skok.”
Ander paartjies sou kon trou. Maar Karolien was op litium, en ‘n baie hoë dosis daarby. Sy het geweet wat dit beteken: te veel risiko vir die baba én vir haar, en dus ‘n aborsie.
“Dit was die swaarste, hardste ding wat ek in my hele lewe moes doen – verreweg die moeilikste waardeur ek nog is. Al het ek volgens my dokter die regte keuse gemaak bly dit my van binne af opvreet. Daar is ‘n leegte in my wat met net niks vol kom nie.”
Behalwe met ‘n baba.
“Ek weet mense sê vroue met bipolêre depressie moenie ma word nie. Die lang tyd sonder medikasie is net te erg vir die meeste van ons. Maar ek het ook doodeenvoudig geweet ek sál dit op een of ander manier regkry.”
Dis toe dat Karolien en haar man – hulle is intussen getroud – begin oplees het. En op die een suksesstorie na die ander afgekom. “Hoe verder ek gelees het hoe meer het ek besef dit is moontlik. Bipolêre vroue kán gesonde, normale babas in die wêreld bring. Dis moontlik … net nie so maklik vir ons nie.”
‘Moeilik’ het nie Karolien of Pete afgeskrik nie. Hy is immers ‘n soldaat. En met Pete aan haar sy (‘my eie rots’, soos sy hom noem) en vyf jaar se ondervinding waarin sy geleer het presies hoe om haar bipolêre depressie met groot sukses te bestuur het hulle weer probeer. Dié keer op die regte manier.

Eksperts en planne vir bipolere swangerskap
Nog voor die swangerskap aangepak is is hulle na haar psigiater en ginekoloog. Die spelreëls vir swangerskap saam met bipolêre depressie is anders as vir ander paartjies, en hulle wou dit deeglik verken. Projek Baba sou absoluut getrou hiervolgens aangepak moes word.
Die probleem lê by litium. Dis is vir Karolien, soos vir baie ander bipolêre, die medikasie waarop sy baie goed vaar … en kan bekostig. Maar in die 70s het dokters begin oplet dat baie babas van ma’s op litium gebore word met skade aan die hartklep of met Ebstein se afwyking, ‘n fout op die elektriese puls wat hartklop beheer, wat daartoe kan lei dat die hart opeens permanent stop by helfte van lyers. Die litiumbabaregister is toe begin om te kyk hoe groot die risiko’s is.
Vandag is dit duidelik dat litium veral in die eerste drie maande van swangerskap hartskade kan veroorsaak, met ‘n risiko wat van 10 tot 400 keer hoër is as vir babas van ma’s wat nie op litium was nie. Daarby is litium beslis toksies vir babas, en kan hulle blou wees met geboorte en van diabetes tot tiroïedprobleme en hartprobleme hê. Toevalle met of kort na die geboorte is ook moontlik, soms so intens dat die baba in ‘n koma kan gaan en selfs kan sterf.
Maar sonder litium ruk bipolêre depressie gou handuit en kan die ma wipplank van manie na depressie, partykeer so vinnig dat sy binne selfs ure oorslaan van die kenmerkende hiperaktiewe ‘op’ fase waarin sy tipies onbeplande, ondeurdagte dinge aanpak tot die baba en haar eie nadeel, tot die depressiewe fase waarin sy maklik so depressief raak dat selfmoord ‘n werklike risiko raak.
Klink dit soos ‘n catch-22?
Sekerlik. Maar vroue met bipolêre depressie hét opsies, sê dr. Ilze Koen, professor in Psigiatrie by die Mediese Fakulteit van Stellenbosch.
“Die publiek het die wanpersepsie dat bipolêre vroue swangerskap moet vermy – wat gemoedsteurings heel onnodig stigmatiseer. Daar word selfs geglo dat ‘n verhouding ook buite die kwessie is omdat sy dan ook haar maat van kinders ontneem.
“Dit is nonsens. Psigiaters stem glad nie saam nie: bipolêre vroue – vroue met enige soort gemoedsteuring – kan beslis gesonde babas hê. Wat ons wel sê is dat mens verantwoordelik moet lewe en jou swangerskap moet beplan. Ideaal gesproke behoort alle vroue swangerskap bepland aan te pak. Bipolêre vroue moet net bykomende reëlings tref.”
Elke vrou is anders, en daarom is haar riglyne baie eenvoudig: gesels met jou dokter, psigiater én ginekoloog … en doen dit vóór jy begin en nie eers nadat jou swangerskapstoets positief wys nie.

Medikasie tydens bipolere swangerskap
Dis moontlik maar soos Karolien dit ervaar, nie noodwendig maklik nie. Haar man is in die Amerikaanse weermag, en lang tye van die huis af weg. Sy kan nie in Suid-Afrika by haar ma kom bly nie want die Amerikaanse weermag gaan nie hier haar mediese sorg betaal nie. Vir haar is hierdie swangerskap te dikwels ‘n alleenpaadjie.
“Maar my dokters is baie positief en behulpsaam. Ek hou nie van alles wat hulle sê ek moet doen nie maar dan onthou ek dat ons as span saam aan hierdie swangerskap werk.”
Waar ander vroue die wagtyd net kan geniet is Karolien s’n ‘n balanstoertjie tussen haar, die baba en die medikasie. Sy moes eers stadig van litium afgaan en aanpas by nuwe medikasie met ‘n kleiner risiko vir die baba, voor sy mag probeer het om swanger te raak. In hierdie tyd is sy deur ‘n paar skrikaanjaende ‘af’ episodes – meestal op haar eentjie.
In die eerste helfte van haar swangerskap is sy ‘n verskeie kere gehospitaliseer. Sy moes veral in die eerste drie maande haar dokter weekliks, en soms daagliks, sien sodat die bloedvlak van haar nuwe medikasie fyn gemonitor kan word, wat beteken dat bloed getrek word en haar medikasie ooreenstemmend aangepas word – wat haar gemoed soms onbeheerbaar laat skommel, en soms weer aanpassingsimptome soos naarheid, duiseligheid en angstigheid veroorsaak.
Sy het al gedehidreer, word gemonitor vir diabetes, is ontsettend naar en leef elke oomblik met kommer oor haar baba. Omdat sy nou veral sukkel met depressie moet sy dopgehou word, wat uit die aard van die saak ‘n gewoonlik onafhanklike vyf-en-twintigjarige irriteer.
Maar deur dit alles heen breek die opgewondenheid oor haar baba deur, net soos by enige ander ma.
“Maar dis nou eers genoeg van die negatiewe! Vir iemand wat niks meer begeer het as om swanger te raak nie, kla ek darem nou te baie. Ek kan absoluut nie wag tot ek die eerste keer my baba op die sonar sien nie.
“Soms is ek ‘n klein bietjie bang ek gaan nie ‘n goeie ma wees nie maar noudat ek ‘n kind gaan hê weet ek ek sal my gesondheid goed móét bestuur omdat ek baie graag my eie kind mooi en self wil groot maak.
“My man is so gelukkig. Dit is amazing dat ons twee na al die harde werk ‘n gesinnetjie van ons eie gaan hê. Die Here is baie goed vir ons.”
*Karolien is nou ongeveer twintig weke ver, en verby die grootste swangerskaprisiko’s. Die bevalling wag nog, wanneer die risiko vir die baba weer styg. In die weke na die geboorte styg haar eie risiko op maniese en depressiewe episodes weer tydelik weens die groot hormonale skommelings. Borsvoeding is dalk ook uit aangesien die medikasie vir bipolêre depressie in borsmelk aanwesig is, teen omtrent 30% van die konsentrasie in die ma se bloed. Ons gaan by http://tee-met-rooirose.wordpress.comgereeld vertel hoe dit met Karolien en Pienkvoet gaan. Lees dit gerus – veral as jy ook bipolêr is. Ons plaas die volledige onderhoud met Karolien ook hier.

Die tweede briefieOns oningewydes sien bipolêre mense meestal wanneer dit goed gaan, en dan geniet ons eintlik hul energie. Die dae dat hulle deur ‘n innerlike donkerte gefolter word, uitgewis voel en ontdaan is van elke greintjie selfvertroue, moed en selfs hul gewone vaardigheid hou hulle privaat, sover hulle kan.
Met Karolien het ek dit ook so ervaar. Ons het per epos gesels. Haar eerste antwoord was so goed geskryf dat ek haar so te sê net so kon aanhaal. ‘n Dag later kry ek egter nog ‘n epossie waarin die ander kant van bipolêre depressie maar te duidelik opwys.
Ons plaas dit deels sodat mens beter kan verstaan hoe intensief breinfunksie tydens ‘n ‘af’ fase ingekort kan wees. Iets om te onthou: Bipolêre depressie is een van die breinsteurings wat 99% van die tyd met groot sukses met medikasie beheer kan word. Mense daarmee staan hul plek wêreldwyd vol, soos Karolien se suksesvolle loopbaan tot nou toe bewys … en waar sy weer sal wees, sodra sy haar medikasie na die swangerskap kan hervat.

Karolien se briefie Ek het erntig al my man gedryg me n aborsie so siek soos dit klink,maar hy het my elke keer weer moed in gepraat en gesê:wag net,more is nog n dag”. en so gaan dit nou aan.Ek tog hê moeders met die siekte moet mooi dink voor hulle idt aanpak,dit is nie maklik nie

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s