Is dit depressie of ‘n vitamien B-tekort?

Deur Maridi Jooste

Die eeste van ons het al gevoel asof ons net nie krag het om uit die bed te klim vir nog ‘n dag met al sy uitdagings nie. Nie eers die prettige geselsies met ‘n goeie vriendin kan jou meer opbeur nie. Steeds sal ons nie waag om ons naam in dieselfde sin te noem as die gevreesde woord nie. Hier kom dit… “Depressie!”

Wat is Depressie?
Depressie is die langtermyn gevoel van hartseer, moedeloosheid, ongelukkigheid of frustrasie. Wanneer dit ‘n siekte word, sukkel die lyer om met hierdie oordonderende gevoelens ‘n normale lewensbestaan te voer (PubMed). Depressie kan veroorsaak word deur ‘n chemiese wanbalans tussen die neurotransmitters in jou brein. Dit kan geneties oorgeërf word of ontstaan sonder dat ‘n een van jou ouers daarmee gesukkel het. Ook omgewingsfaktore of lewensgebeurtenisse soos trauma, die verlies van ‘n geliefde of ander stresvolle lewensomstandighede kan dit veroorsaak (NIMH). Dan kan dit ook ‘n kombinasie van meer as een van hierdie faktore wees … of doodeenvoudig ‘n tekort aan vitamien B.

Depressie en Dieeet

Ek weet mens het nie altyd krag om ‘n lamspot of ‘n broccolli-en-hoendergebak te maak as jy depressief voel nie, maar wat ons eet is belangriker as wat ons wil glo. ‘n Britse studie wat die verband tussen dieet en depressie onder meer as 3000 middeljarige kantoorwerkers oor vyf jaar ondersoek het, het gevind dat meer van werkers wat die geproseseerde kosse geëet het depressief. (Kathrine Zeratsky, R.D.,L.D).

Hoe ‘n vitamien B tekort depressie kan veroorsaak

Volgens Daniel K. Hall-Flavin speel vitamien B ‘n rol in die produksie van breinchemikalieë wat breinfunksies soos gemoed beïnvloed. Alhoewel alle vitamien B’s met breinfunksie, –flinkheid en gemoed help is ‘n gebrek aan vitamien B12 en B6 veral met depressie verbind. Vitamien B12 vorm ‘n vetweefsel om jou senuweeselle wat nodig is vir die senuweestelsel om normaal te werk, terwyl vitamien B6 die brein help om die meeste te maak van sy neurotransmittors, insluitende serotonien (Willow Lawson). ‘n Gebrek aan inositol (vitamien B8) kan egter ook lei tot ‘n tekort aan serotonien, dopamien en norepinefriene en sodoende lei tot depressie (Iovieno, Nadia, Elizabeth D. Dalton, Maurizio Fava en David Micholon).

Vit B doen selfs meer vir jou

Vitamien B is ook belangrik vir sel-metabolisme en die onderhou van die sentrale senuweestelsel. Dit verminder ook aandagafleibaarheidsindroom. Dit bou die immuniteitstelsel en help selgroei en –verdeling. Sodoende bou dit nie net die rooibloedselle nie, maar help ook met die sigbare fisiese aspekte soos gesonde hare, vel en spiere. Donker sjokolade met sewentig persent kakao is ryk aan Vitamien B en help met vetverbranding, maak jou hare dikker en jou vel soepel.

Vitamien B is versprei deur jou liggaam en moet konstant aangevul word, anders word dit uitgeskei in die urien (Urien met ‘n hoë konsentrasie vitamien B sal ‘n groen/donkergeel kleur hê).

Drie redes waarom party vroue vit B-arm is

1. Die Pil
‘n Vitamien B6 tekort is veral algemeen by vroue wat Die Pil drink. Dit breek Vitamien B6 af en veroorsaak ‘n energie-tekort, swakker breinfunksie en depressie. Alhoewel min van ons daarvan bewus is, het studies bewys dat vitamien B aanvullers wel saam met Die Pil benodig word (Melissa A. Bartoszewski, DC).
2. Vegetariërs
Depressie, irritasie, spierpyn en naarheid is maar ‘n paar van die vele gevolge van ‘n vitamien B12 tekort. Vegetariërs is geneig om hiermee te sukkel aangesien vitamien B12 selde in plante voorkom en meer volop is in vleise en ongeproduseerde produkte. ‘n Vitamien B12 tekort is egter maklik om met aanvullers, inspuitings of gistablette reg te stel (Anthony Leader Komaroff, MD, Harvard Health publikasies). Vegetariërs kan ook met ‘n gesonde ontbytpap die probleem oplos.
3. Alkohol
Die oormatige gebruik van alkohol breek vitamien B6 af in die liggaam. Oplossing: Geen alkohol. Of goed, min. Volgens dieetkundige Elria van Schalkwyk moet vroue hul alkohol inname tot een glasie per dag beperk terwyl mans met twee kan wegkom.
Dit is egter maklik om met inspuitings of aanvullers ‘n vitamien B tekort te oorwin.

Wat bevat vitamien B?

Rooivleise, vis (veral tuna), kalkoen, lewer, bees, hoender en oesters is gewoonlik ryk aan vitamien B12. Vrugte, bruinrys, broccoli, brusselse spruitjies en groen blare bevat weer vitamien B1, B2 en B6. Verder is daar ook volop vitamien B in kombucha, volgraan, aartappels, piesangs, lensies, brandrissies, tempeh, bone, brouersgis, okkerneute en molasses.
Bier bevat gis wat ‘n ryk bron van vitamien B is, maar die ethanol in bier maak absorbsie sleg.

Tekens dat jy ‘n vitamien B tekort het

Vitamien B1 – gewigverlies, emosionele gedrag, limfpyn
Vitamien B2 – krake in lippe, sensitiwiteit vir sonlig, inflammasie van tong
Vitamien B3 – aggressie, slapeloosheid, swakheid, diarree
Vitamien B5 – aknee
Vitamien B6 – depressie, hoë bloeddruk, waterretensie
Vitamien B12- geheueverlies

Dieetkundige Elria van Schalkwyk se raad vir Vitamien B inname

1. Eet ‘n gebalanseerde dieet met voedsels uit al die voedselgroepe.
2. Eet daagliks ten minste drie verskillende kleure groentes en vrugte.
3. Kies volgraan produkte.
4. Vervang gewone blaarslaai met jong spinasie in slaaie en voeg ander donker blaar groentes by bv. aspersies en broccoli.
5. Gebruik alkoholiese verversings matig. Maksimum twee sopies per dag vir mans en een per dag vir vroue.

Interessante feite oor Vitamien B
1. Die ontbrekende vitamien B soorte.
Het jy gewonder wat van vitamien B4 geword het? Die ontbrekende vitamien B nommers is op ‘n tyd as vitamines beskou, maar nie meer nie. Alhoewel hierdie nommers nie essensieel is vir die mens nie, is dit dikwels wel nodig vir ander organismes.
2. Energiedrankies
Energiedrankies word dikwels bemark vir hul vitamien B-aanvulling. Case Western Universiteit se Professor Hope Barkoukis lewer egter die volgende kommentaar hierop: “Dit is briljante bemarking, maar dit het geen basis nie.”

Alhoewel vitamien B nie die oplossing vir depressie is nie, is ‘n goeie bord gesonde kos vir almal nodig om gesond en gelukkig te wees. Dit is die manier waarop jy van jou liggaam beheer kan neem en so ook jouself bemagtig.

2 thoughts on “Is dit depressie of ‘n vitamien B-tekort?

  1. Kopdolla antwoord:
    Hallo Ryno
    Jong na my mening is vitamiene ‘n hulpmiddel – soos al daardie bymiddels by die petrol. Dit maak ‘n verskil – ‘n belangrike verskil – maar dit is nie die oplossing met die woema nie. Ek dink jy het groter kanonne nodig.
    Jy vertel min: was jy al by ‘n psigiater? Hoe weet jy jy het paniekaanvalle? Voel dit asof jy kan doodgaan? Voel jy eerder altyd gespanne, gejaag en/of angstig? Vertel meer?
    Gaan heel eerste na ‘n psigiater, en laat hy/sy jou help uitsorteer wat die beste opsies vir jou is. Baie mense het nie ‘n antidepressant of iets soortgelyk nodig nie. Hulle baat die beste by ‘n paar kopskuiwe of life skills, wat mens by ‘n sielkundige of mentor optel.
    As jy al by ‘n psigiater was en nog steeds sukkel moet jy OF terug gaan na hom OF na iemand anders gaan – ‘n ander psigiator, of jou huisdokter wat jou verder kan verwys.
    Drink intussen gerus jou B-vitamiene. En sorg dat jy elke dag oefening kry, Dit werk angs baie goed weg – al daardie opgehoopte hormone weens die weg-of-vlug paniekreaksie word weg gewerk – en jou kop voel sommer skoon. Oefen so dat jy uitasem raak maar darem nie jou hart ooreis nie.
    Sterkte, en laat weet hoe dit gaan

  2. Hi ek sukkel nou met depressie en pannic attacks en gewigsverlies het al so 9 kg verloor eet min so julle reken vitamienie B12 is n oplossing vir depressie en spanning ens en B6 ens sal meer inligting wil he dankie baie

    Ryno

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s