Is jy ‘n verby-jou-vervaldatum vrou? Weet jy waarvan ek praat?

Ek is ‘n guskoei. Volgens my HAT beteken dit: “a)Wat nie dragtig is of melk gee nie – gesê van ‘n vroulike dier.b) Skertsend van mense, veral ‘n vrou gesê – ongetroud; ook, nie swanger nie.” Volgens my ondervinding sluit dit in: manloos, kinderloos, werkloos,karloos, woonstelloos. En 42..

Baie jare gelede, sewentien om presies te wees, drink ek ‘n fatsoenlike koppie tee saam met ‘n ouer vriendin. Sy is vies. Ons gesamentlike pel het ongenooid opgedaag by ‘n braai wat hy deur die riemtelegram gehoor het by hulle is. Nogal met ‘n brullende nuwe afslaankap motor en ‘n nuwe girlfriend. Haar tieties het gehop as sy gelag het. Dit was eintlik ‘n familie gedoente, sien. Want sedert vriendin ‘n mamma geword het is Saterdagaand braais uitsluitlik net vir die vriende wie ook kinders het, aangesien die gesprekke onvermydelik oor ouerskap sal gaan en hy (en tieties) het nie kinders en “sal nie verstaan nie”. Die wind is so uit jou seile gehaal, jy verstik maar aan jou cupcake en leer die eerste les van jy is nie deel van ‘n klub wat jy nie eens bewus van was bestaan, nie. Wat ek toe ook nooit lid van geword het nie.

“Kan ek tannie se ID kry asseblief”, vra die mannetjie met die hoenderborsie en Jesus hare waar ek ‘n dvd in my nuwe dorp vir die eerste keer uitneem. “Haai tannie ek sou nooit gedink het jy is in 1972 gebore nie. Jy lyk glad nie oud nie”. Op watter ouderdom word mens die eer ontneem om gejy en gejou en op jou naam genoem te word? Want as ek nie oud lyk nie, hoekom noem hy my in die eerste plek tannie? Hoe is ‘n 41jarige vrou dan veronderstel om te lyk uit die halfmas ogies van ‘n 22jarige? Ek het wel sewe maande later daarop aangedring om “asseblief tannie” en “dankie tannie” by hom te hoor. Maar dit was ‘n ander situasie en bedoel vir die hoofstuk “Wat ‘n guskoei doen om haar tyd te verwyl”.

Al hoe jy nog wegkom met kans vir ‘n tweede kykie in jou rigting terwyl jy in die straat afloop, is as jy ‘n sonbril so groot soos die middel Kardashian derrière op het. Met ‘n handsak stylvol oor jou voorarm gehak en ‘n houding wat lees jy besit ten minste vier eiendomme in die hoofstraat. Al voel jy nog om te slof met 12 jaar terug se Converse aan jou voete en jou hande met die afgedopte cutex in jou cargo pants se uitgerekte sakke. (Dis egter essensieel dat jou lover wel ). Jou nuwe styl is dan nou ook die houding waarmee jy ‘n werksonderhoud sal aanpak. Indien daar so geleentheid vir 41jariges en ouer sou bestaan het. “Great team spirit”, “positive outlook” en “vibrant” is jy beslis nie meer volgens die geen terugvoer na die uitstuur van jou cv aan voornemende werkgewers nie. ‘n Leë inbox en stil telefoon weeg nou net so swaar op jou hart soos daardie eerste liefdesteleurstelling wat jou laat voel het jy is nie goed genoeg nie. “You are over qualified” vervang “dit is nie jy nie dit is ek” in hierdie stadium van jou lewe.

Baie dinge word mens ontneem as jy ‘n guskoei is. Soos om deel te wees van die afslag wat mens kry as jy ‘n family feast in enige kitskosplek koop. Per defenisie betaal jy meer as dubbel vir jou skamele two piece. En wurg daarom maar Cokeloos aan die tjips. So ook is al die spesiale aanbiedings by die groente winkel net van toepassing as jy 3 sakkies hiervan of 4 punnets daarvan koop. En dan kry jy nog ‘n gratis spanspek ook. So gaan waardevolle voedingswaardes vir ‘n guskoei verlore, want jy sien nie kans om jouself elke keer in ‘n kankersaal te verbeel na ‘n besoek aan die toilet as beet die week op special was nie. Nie eens word ons gespaar om herinner te word aan ons status as die mees basiese vroue produkte geadverteer word nie. Bloedjonk, beeldskoon, hand aan hand, glimlag die paartjie vir mekaar as hulle langs die strand af draf in spierwit, stywe shorts, haar tampon knus, gemaklik en absorbeerend uit die oog. Oor en oor word jy herinner, dolla, jy het nie die cut gemaak nie.
Maar die swaarste bly ongetwyfeld dat jy blykbaar nog nie gelewe het nie. “As jy nou eers trou en kinders het sal jy weet wat ware liefde is”, of “Pyn is slegs ‘n moeder se kruis”. Gewoonlik op sosiale netwerke en deur ouer dames wat ander, maar eintlik hulself, moet aanhou oortuig van hul sukses (my die rol as vrou is vervul, ek het dit gemaak). Eintlik is dit erger as dieselfde bevoorregtes gemoedelik sug en jou meedeel hoe gelukkig is jy om vry en sonder bande deur die lewe te gaan, maar dan skelm nog ‘n snappie van die sestien sitplek krismistafel vol geliefdes wat cheeeeers op nog ‘n jaar van samesyn onder jou neus druk.

Duidelik het ek issues. Kwessies wat swaar druk op die hart van ‘n middeljarige vrou tel net as jy weet van kinders baar en iemand gekry het wat actually met jou wou trou. Anders het jy issues. Ek neem nou maar my issues en klim met my koue voete in die bed en luister hoe die baba en sy sussie hier langsaan die leerbank en koffietafel opdinges. Dis seker net my verbeelding dat ek mamma hoor skree “hou nou f%@*#@n op!”, want dis mos lekker.

This entry was posted in .. Bookmark the permalink.

2 thoughts on “Is jy ‘n verby-jou-vervaldatum vrou? Weet jy waarvan ek praat?

  1. Haai , guskoei ! Ek het hierdie geniet. Ek lees raak dat jy eintlik gemaklik in jou vel is. Daars min koeie wat dit kan se. Glo my hulle sukkel maar erg met dragtige storie , mastitus en man stitus.

    Ek het n ou jongnooi tante nou naby 70 vandag stuur sy vir my n email : Lekker lag ek nou xxx

    Eendag , lank ,lank gelede was daar n vrou wat nie vol k..k was nie ………….
    maar dit was MOERSE lank gelede……En dit was net daai eendag.

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s