Moet ek help of so vinnig as wat ek kan weghol?

Anoniem voorheen van Ellisras

15/04/2013 at 14:23 (Wysig)

PLAAS ANONIEM ASSEBLIEF!!!!!
Ek het asb dringend raad en hulp nodig.
Ek het so ‘n jaar gelede weer iemand gevind nadat ons mekaar toevallig twee keer op twee verskillende geleendhede by twee verskillende plekke raak geloop het. Ek van Ellisras en hy van die Vrystaat, albei kere binne twee maande se tyd. Sy vrou is ‘n jaar en ‘n half voor dit oorlede (selfmoord).

Ons het begin gesels met telefoon oproepe en boodskappe en toe heen en weer begin kuier. Ons het albei besluit dit is niks lekker alleen te wees nie en ek het na hom toe getrek. Ek is 43 en hy is 52.

Alles het goed gegaan, ek het ‘n klein besigheidjie begin en soos elke verhouding maar was daar al hakplekkies, maar niks so groot dat daar nie aan gewerk kan word nie. Hy is maar ‘n redelike moeilike mens en praat nie graag nie.

Laas week het ek gevoel dinge is netnie reg nie. Na ek so te sê aangedring het op antwoorde het hy net vir my gesê dat hy nie dink dinge gaan tussen ons werk nie en hy dink net hy is nie verhoudings materiaal nie.

Ek is nou al ‘n jaar by hom. Ek het alles opgegee en ‘n besigheid hier begin. Wat laat ‘n man so ‘n besluit maak? Is mans vandag net te lafhartig om regtig aan ‘n verhouding te werk of is dit net die maklike uitweg as alles nie gaan volgens sin nie?

Is daar asb iemand wat vir my kan verduidelik waarom?

Hy is gladnie ‘n mens wat lief is om drukkies en soentjies te gee nie en wat bedsake aanbetref moet jy al die aanleiding en werk doen anders sal daar ook niks gebeur nie. Is dit moontlik dat hy ‘n haat in hom dra of dalk ‘n skuldgevoel oor wat met sy vrou gebeur het? Ek is ‘n kind van die Here en ek voel in my hart ek kan nie net weg loop nie. Dit bly vir my voel ek moet iets doen om hierdie man te help en hom dalk weer die weg na liefde en God te wys, maar ek weet nie waar om te begin nie. Onthou, hy praat gladnie oor dinge nie, so ek gooi hom net toe met liefde en bid vir hom elke dag van my lewe, maar my moed is in my skoene na wat hy vir my gesê het.

My kop sê hardloop weg en my hart en my siel skreeu “byt vas en doen alles wat jy kan om te help”

This entry was posted in .. Bookmark the permalink.

One thought on “Moet ek help of so vinnig as wat ek kan weghol?

  1. Hallo Anoniem

    Sjoe, my hart bloei vir jou. Ek wil se “HOL”, so vinnig soos wat jy kan, maar verstaan dat die vrouehart een is wat graag help en vertroos, daarom gaan ek dit nie se nie – jy gaan in elk geval nie luister nie.

    Ek kan my net indink hoe hartseer jy tans moet wees. Dalk voel jy ontnugter, in wanhoop gedompel, met daardie knop in jou keel. Dalk hoop jy jy gaan wakker word uit hierdie nagmerrie, maar dan besef jy dat dit regtig gebeur het.

    Jy moet jouself afvra wat jy werd is en wat jy in ‘n liefdesverhouding verdien, veral omdat jy bereid is om jou bydrae te lewer. Jy verdien baie meer as wat jy tans kry en wanneer jy dit besef en GLO, sal jy weet wat die regte ding is om te doen.

    Jy vra hoekom hy dit doen. Ek weet nie, maar die soort ding gebeur gereeld wanneer vroue te vroeg TE VEEL gee en tevrede is met baie minder in ruil daarvoor. Dit sou goed wees indien daar ten minste ‘n soort kontrak tussen julle was, voordat jy alles opgepak het om by jou vriend in te trek.

    Met so ‘n kontrak, kon julle na die volgende kyk:
    Hoe gaan ons dit hanteer indien dinge dalk nie uitwerk nie? Sal jy weer na jou vorige lewe, dorp of blyplek kan teruggaan, indien dinge nie uitwerk nie?
    Gaan hy dalk finansieel tot jou besigheid bydra omdat jy jou lewe moes oppak?
    Ek noem dit Verhoudingsversekering.
    Ons het versekering vir ons eiendom, omdat dinge moontlik kan skeefloop, maar ons laat na om versekering op ons verhoudings uit te neem. Niks is vir seker nie en dit sluit die liefde en verhoudings in.

    Jou vriend het tans dalk ‘n beter idee oor wat hy wil he. Glo my, jy wil nie later op met selfverwyst op jou lewe terugkyk nie, omdat jy jouself verneder het nadat iemand dit duidelik gemaak het dat hul nie meer in die verhouding wil wees nie.

    Gaan sit en kyk weer na jouself, na wie jy is, jou waarde en wat jy in ‘n liefdesverhouding wil he en verdien. Dalk is afstand presies wat julle nou nodig het. Indien julle wel vir mekaar bedoel is, sal hy sy fout agterkom. En indien jy dan nog dieselfde voel, kan jy weer probeer – onthou dan daardie “versekering.”

    Hy is ‘n volwasse man en ek dink nie hy het jou “hulp” nodig nie, maar jy kan wel vir hom bid soos jy tans doen.

    Glo my, eendag gaan jy terugkyk en dankie se vir hierdie pyn omdat dit jou so baie geleer het, oor jouself, oor ander en oor dit wat jy regtig verdien.

    Vra jouself die volgende vrae: (uit my program oor hoe om emosionele pyn en langtermyn woede te verwerk en te laat gaan: Ek gee onder die vrae ‘n moontlikheid wat in my kop opkom, maar jy kan gerus hierdeur werk en antwoorde vind.

    1. Wat anders as wat tans op die oppervlak is, kan hierdie situasie beteken?
    (dalk beteken dit dat daar eintlik iemand anders is vir jou).

    2. Wat is ek veronderstel om hieruit te leer?
    (dalk om jou nie in ‘n ernstige verhouding te begewe sonder verhoudingsversekering nie).

    3. Hoe kan ek groei as gevolg van dit wat gebeur het, as gevolg van hierdie pyn wat ek tans deurmaak?
    (jy leer dalk meer oor jouself, oor wat jy verdien en besluit om dit vir jouself te gun.

    4. Wat kan ek vir ander leer, as gevolg van dit wat ek tans deurmaak?
    (hier is dit natuurlik belangrik om eers deur die pyn te werk en om te genees, voordat jy ander leer. Wat van ‘n ondersteuningsgroep vir vroue in jou huidige bootjie, nadat jy genees het?)

    Anoniem, dit was ‘n mondvol. Ek hoop dat daar ten minste een punt is wat jou beter laat voel.

    Sterkte.

    Vriendelike Empatie Groete,

    Andeline Williams-Pretorius
    Empatie en Verhoudingskenner op RSG
    Lewensafrigter
    Skrywer van “In Mekaar Se Skoene.”

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s