Ek gaan die pole van my gemoed nader aan mekaar bring en my buie stabiliseer

“‘n reis so tussen die pole”

Oor twee weke is ek ‘n jong man van 23. Gedurende hoofsaaklik die laaste twee jaar was ek as gevolg van depressie en gemoedsteurnis op ‘n ongelooflike reis – nie net die tipiese “emotional rollercoaster” nie, maar ek het ook verskriklik baie oor myself geleer. Dit is beslis waar dat ‘n mens donker nodig het om die lig te sien.

Ek onthou hoe ek reeds op laerskool bewus was van die feit dat daar duidelike “kontraste” in my gemoed was. Ek het vinnig vies geword, maar aan die ander kant was ek ook verskriklik lief vir lag en kon lekker en onophoudelik lag. Hierdie lewe tussen kontraste en pole het maar so ongesteurd voortgegaan en op hoërskool was dit dan eerder tydperke van depressief voel vs. goeie buie as “vinnig vies vs. lekker lag”. Teen Matriek het hierdie depressiewe stadia ‘n taamlike klimaks bereik en het ek gesukkel met motivering. Maar ek kon steeds Matriek slaag met goeie punte (tog onderhewig aan verskeie grade van onderprestasie).

Die nuwe, vars omgewing van die universiteitslewe met nuwe vriende en nuwe interessanthede het my aandag (tydelik) afgelei van die tekort aan motivering en die depressiewe tydperke wat ek op hoërskool ervaar het. Ek het ook ‘n wonderlike meisie ontmoet en ‘n romantiese verhouding het uit ons hegte vriendskap ontwikkel. Maar my wisselende gemoed was weereens duidelik sigbaar in die verhouding en die “mood swings” het dikwels gelei tot ‘n gestry. Op daardie stadium het ek nog nie eers gedink aan depressie en bipolêre gemoedsteurnis nie. Ek was maar te gewoond aan hierdie “kontraste” wat ek van kleins af geidentifiseer en ervaar het.

Na bietjie meer as ‘n jaar het die meisie die verhouding met my beëindig. Dit was nie moeilik om nie meer ‘n meisie en ‘n romantiese verhouding in my lewe te hê nie. Die moeilikste was om my beste vriendin nie meer in my lewe te hê nie (ek kan egter noem dat ons deesdae weer baie goeie vriende is en eintlik net die romantiese deel afgeskud het). Ek het egter eers in my ervaringe in die afgelope jaar agtergekom dat ek die “break up” nooit regtig verwerk het nie en kon sien hoe dit gely het tot angstigheid en ligte paniekaanvalle soos my brein dieselfde scenario in ander vriendskappe geidentifiseer het.

Verlede jaar het my depressie my lewe die meeste beinvloed. Dit het hoofsaaklik veroorsaak dat ek nie motivering gehad het nie en ek kon nie my graadkursus voltooi nie en het my kursus eerder gestaak om hierdie jaar ordentlik te voltooi as ek weer motivering het. Om te verseker dat ek motivering het, het
ek dus einde verlede jaar by ‘n sielkundige gaan aanklop. Ek is met ‘n ligte geval van “major depressive disorder” gediagnoseer en is antidepressante voorgeskryf. Ek was vir ‘n hele paar sessies by die sielkundige en was vir amper sewe maande op antidepressante. Toe ek hierdie jaar besef dat die antidepressante absoluut geen uitwerking op my het nie en my gemoed en “mood swings” eintlik net verswak en vererger het, het ek en my ouers besluit dit is tyd vir ‘n tweede opinie. Ek kon nie waag om weer ‘n keer nie te gradueer nie en ek het net besluit dat ek bemagtig wil wees om beheer van my lewe te neem en te verseker dat ek gemotiveerd is om ‘n suksesvolle lewe en loopbaan te begin.

Bietjie meer as ‘n maand gelede is ek na ‘n psigiater. Slegs een afspraak by hom het meer beteken en meer sin gemaak as die reeks sessies by die sielkundige. Ek is aangeraai om dadelik die antidepressante te staak en is ‘n gemoedstabiliseerder voorgeskryf. Ek kan sê dat dit beslis werk en dat ek reeds baie anders voel al is ek nog stelselmatig op pad na die volledige daaglikse dosis. Ek begin ook binnekort met sielkundige terapie in kombinasie met die medikasie en die psigiater verwys my na ‘n sielkundige.

Ek weet dit is nie alles net verby nie. Daar is nog ‘n lang pad vorentoe en ‘n hele paar dinge wat ek mee moet vrede maak en moet verstaan omtrent myself voor ek ‘n goeie, gebalanseerde en gemotiveerde lewe kan lei waar ek my potensiaal bereik. Aan die ander kant gaan ek seker ook nooit ten volle hiervan ontslae wees nie. Ek hoop om die pole van my gemoed nader aan mekaar te bring en my buie te stabiliseer. Maar ek het onlangs my breinprofiel laat ontleed – beide vir beroepsvoorligting en blote interessantheid. In die verslag moes ek dan ontdek dat ek ‘n rare en unieke breinprofiel het. En dit dan omdat my profiel ook tussen twee pole lê. In plaas van een duidelike profiel met die hoogste telling, het ek twee groepe breinprofiele wat gelyk is as die hoogste. En so begin nog ‘n reis… die reis om balans te vind tussen ‘n rasionele, analitiese, wiskundige en wetenskaplike kant van my en ‘n ewe sterk kreatiewe, “laid-back”, rebelse, waaghalsige kant…

This entry was posted in .. Bookmark the permalink.

Gesels hier

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s